Besluit maar self wat jy dit wil noem, ontvlugting of vermydings taktiek, ek verkies om te glo dat humor ʼn spanningsvolle situasie ontlont en dit meer draaglik maak. Aanvanklik het ons lekker vir Hein gelag wanneer hy snaakse dinge doen en sê, maar deur die genade kan ons deesdae saam met hom lag.
Dit het reeds begin toe hy nog in Intensiewesorg was. Mens kan die spanning daar byna met ʼn mes sny, so dik is dit. Personeel is gefokus en hou hulle afstand om nie te betrokke te raak by pasiënte wie letterlik enige oomblik kan sterf nie, besoekers is bekommerd en wag gespanne om te verneem van die pasiënt se prognose, en die pasiënte self is meestal salig onbewus van hulle eie kritieke toestand want hulle is of in ʼn koma of so verdoof dat hulle in elkgeval nie mooi weet waar hulle is nie. Personeel beweeg flink en vinnig, besoekers stap stadig en huiwerig en staan hulpeloos langs die bed en staar na die slapende pasiënt. Die pasiënte slaap of staar onsiende die niet in, onder swaar verdowing, dis nou almal behalwe Heinrich Potgieter vanaf dag 8. Die oomblik wat die verdowing gelig is, het hy probeer regop sit en blykbaar huis toe gaan. Sy baie besige vingers het hulle bes probeer om die ventilator, voedingsbuis en ander buise en drade af en uit te trek. Die ventilator is naderhand uitgehaal en vervang met suurstofpypies in die neus, en hy kon begin praat. Sy eerste woorde was fluisteringe uit die botsingnagmerrie, soos: pasop, hier kom hy, gee pad (alles sonder uitroeptekens want dit was los, gefluisterde woorde) en later: stupid, waars die bliksem, eina, los my, bel die polisie.
Hy was ʼn hele paar dae vasgevang in hierdie nagmerrie waarin hy die botsing oor en oor beleef het, maar toe word hy genadiglik bewus van sy omgewing en begin mense en dinge raaksien. Gelukkig het een van die susters dit goed gedink om te verduidelik dat hy waarskynlik inhibisieloos sal wees agv ʼn kombinasie van die medikasie en die aard van die besering, dus was ek nie heeltemal so verleë oor sy volgende woordkeuses nie:” Fokken kaffer! “ vir die hoogs gekwalifiseerde, uiters bekwame verpleër wat geduldig die soveelste keer die suurstofbuis terugsit wat Hein self uitgepluk gekry het (al was sy hande vasgebind); “ Wat soek die meid?! “ vir die eweneens professionele verpleegsuster wie sy kaart reg langs hom sit en voltooi. “Swart, als is swart!” en hy beduie na die personeel, die draadjie aan sy bors, die toerusting en knoppies wat hy kan sien vanwaar hy lê. Die personeel het nie een soveel as ʼn oog geknip nie, inteendeel het hulle soms geglimlag en gesê dis ʼn goeie teken as hy praat want dit beteken hy is bewus van sy omgewing en, aangesien die uitspraak heel duidelik is, dat die skade aan die spraaksentrum in sy brein nie so erg is nie. Engele, almal van hulle, swart of te not.
Een aand sê Hein hard en duidelik: “ Tien! Hulle soek tien! “ Alexander het natuurlik geen idee gehad waaroor dit gaan nie en Hein het dit al harder herhaal tot Rethea onthou het dat Shireen, die spraakterapeut, die oggend daar was. Sy het ʼn paar oefeninge verduidelik wat ons elke besoektyd met hom moes doen in stelle van tien herhalings. Hein het tevrede tot rus gekom toe hulle bevestig dat inderdaad tien is.
Sy reaksie op vrae was soms relatief vinnig en hy kon bv binne sekondes reageer en sy mond oopmaak sodat sy tande geborsel kan word, maar soms het hy geantwoord lank nadat die vraag gevra is. So was die neuro-chirurg die oggend agtuur daar en het Hein ʼn paar vrae gevra, onder andere: “Wat is jou naam?” en “Wat is jou van?” Elfuur besoektyd kry ek hom wakker, hy kyk na my, toe na die suster en sê: “Potgieter!” Ek was heel verbaas toe sy sê: “Mooi! Jou naam is Hein en jou van Potgieter. Goed gedoen! “ Hy het probeer glimlag, sy oë toegemaak en die res van die kosbare halfuur besoektyd geslaap.
Shireen, die spraakterapeut, en die fisioterapeut was byna elke dag daar om sy brein so vinnig moontlik aan die gang te kry. Shireen kom een dag in besoektyd daar aan. Sy groet, vra hom of hy weet wie sy is en hy skud sy kop: Nee. Sy wys na my en vra: “En diè, wie is dit diè? “ Hy wys geen reaksie nie, kyk haar net uitdrukkingloos aan. Sy draai sy gesig na my toe en sê vir my om dieselfde te vra terwyl ons oogkontak maak. Ek probeer: “ Hein, wie is ek? Wat is my naam? “ Geen reaksie nie, weer net die lang kyk. Shireen: “Is dit jou ma? “ Geen reaksie. “ Sê bietjie: Ma.“ Geen reaksie. “Kyk vir my” Sy oë draai na haar toe, dus hoor en verstaan hy. “ Kyk vir my mond, maak soos ek, sit jou lippe op mekaar en sê mmmmmm. Mmmm aaaa.” Geen reaksie. Ek kon nie help om te lag nie en sê vir Shireen: “ Daai kyk sê vir my hy dink: O gats! Nou is ek in die moeilikheid! Hier lê ek in die hospitaal, ernstig beseer, en my ma kan nie haar eie naam onthou nie! “ Shireen kon maar net saam lag.
Ons het ook baie gelag wanneer Shireen, en later Rethea en ek, hom vrae vra en hy nie die antwoord kan onthou of hy dit nie uitgespreek kry nie, ons help hom dan bietjie, die gesprek sal ongeveer so verloop: Wat is die dae van die week? Hein: Maandag, Dinsdag, Woensdag ….. Watter dag kom na Woensdag? Stilte Maandag, Dinsdag, Woensdag en dan? Is dit daarna Donderdag? Hein druk dan ‘n voorvinger in die lug, glimlag en sê triomfantelik: Daar’s hy! Kom ons doen nou die maande van die jaar. Hein: Donderdag Probeer weer, Januarie, Februarie … Hein: Donderdag Ons is nou klaar met dae van die week, ons doen nou maande van die jaar, watter maand volg na Februarie? Hein: Donderdag Shireen het verduidelik dat die beseerde brein, byna soos ‘n rekenaar, soms kan vashaak en ‘hang’ dan moet mens dit soort van restart, verander die onderwerp heeltemal en doen iets fisies soos koeldrank drink, en doen dan ‘n nuwe oefening. Ek het sommer basiese onderwystegnieke ook geleer: maak seker dat die vraag korrek formuleer is, praat duidelik en stadig, vra dieselfde vraag met ander woorde as die antwoord verkeerd is, bly geduldig, verander die onderwerp voordat hy gefrustreerd raak.
Ek het hom elke liewe oggend vertel watter dag dit is, waar hy is en waarom, hoe die weer is, en afgesluit met: “ Mamma is lief vir jou, jy moet gou gesond word. “ Shireen, Rethea, die dokter en soms ook die personeel sou hom later byvoorbeeld vra watter dag dit is, maar hy het nooit terwyl hy in Intensiewesorg was daardie vrae direk geantwoord nie, maar as iemand dit anders sou stel en byvoorbeeld vra: Was jy in ‘n ongeluk? Het hy instemmend geknik en met nadruk gesê: “ Off course yes! “
Hy was al in Hoësorg toe hy moes tel en trek los met: One thousand and een, one thousand and twee, one thousand and drie ens. Shireen kon hom op geen manier kry om normaal te tel nie en hy kon ook nie verduidelik waaroor die One Thousand gaan nie. Danny het die aand kom besoek en kon net dink aan ‘n gunsteling TV program van Hein: A Thousand Ways to Die. Wat het in my arme kind se kop aangegaan? Het hy begin besef hoe erg sy besering was, en was op daardie stadium obsessief met die dood? Ons sal nooit weet nie.
Elke oggend wanneer Dr Fatmi vir Hein besoek, het ek ingeglip om te hoor wat hy sê, en dan sommer vir Hein gegroet terwyl die dokter na die pasiëntkaart kyk. Elfuur besoektyd stap ek en Rethea dan in en sy groet haar boetie met: “Hallo, hoe gaan dit?“ dus was sy die eerste een om te hoor: “Goed” Mompelrig en net die een woord maar ʼn direkte antwoord op ʼn direkte vraag.
Twee oggende later vra Dr Fatmi dieselfde roetine vraag wat hy al die afgelope tien oggende vra, Hein se oë was op my en ek sê: “ Antwoord die dokter my kind, hy vra jou hoe dit gaan “ en wonder bo wonder antwoord hy in Afrikaans: “ Goed dankie dokter “ Sy eerste duidelik verstaanbare frase! Dr Fatmi vra hom toe: “ Who is that? Do you know her? “ maar tot die dag van sy ontslag het Hein my nie ʼn enkele keer identifiseer nie, hy het geweier om te sê ‘Ma’. Hy het waarskynlik redeneer hy ken my mos en hoef nie so ʼn maklike woord te oefen nie, of dalk was hy weer bekommerd oor my eie identiteitskrisis?
Een van die spraakterapie oefeninge was dat hy sy mond moet oopmaak op bevel en sy tong uitsteek (om beheer oor sy spraakorgane te kry). Rethea het sy oefeninge waargeneem terwyl sy daar was, en vra hom eers net om sy mond oop te maak. Hy het in die stoel langs sy bed gesit en ek het aan die anderkant van die bed gestaan. Elke keer as Rethea mooi hard en duidelik sê: “ Maak oop jou mond “ byt hy sy tande op mekaar en trek sy lippe op en oop in ʼn soort grinnik. Rethea vra weer en demonstreer en trek sy ken liggies af, maar elke keer kom die grinnik terug. Ons twee lag naderhand so dat die suster by die bed oorkant gesteurd opkyk en ons streng aangluur. Ons het die besoek kortgeknip en vroeg geloop daardie dag, voordat hulle ons uitsmyt.
Die volgende dag was ons weer suur aangekyk en byna uitgeskop. Hein het voortdurend die suurstofpyp uit sy neus uit gesukkel, al was dit teen sy wange vasgeplak en sy hande aan die bed vasgemaak. Ons stap die dag daar in net toe hy sy onderkaak uitsteek en die suurstofpyp vernuftig met sy onderlip hak en in sy mond in trek. Ons los dit toe maar so omdat hy darem nog steeds die suurstof inkry, maar net totdat hy sy lippe styf toeknyp, die druk uit die pypie sy wange opblaas en die lug gevolglik raserig tussen sy lippe deur ontsnap. Ons het maar die pypie uitgesukkel en bo-op sy neus gelos tot sy verpleër terug was om als reg te maak.
Vanaf ongeveer dag 10 in ICU was Hein baie woelig. Hy kon opdragte verstaan en het meestal bedaar wanneer ek of ʼn personeellid in Afrikaans vir hom sê om stil te lê, maar saans, wanneer Alexander en Dirk besoek, was hy oormoeg en die drukking op sy brein hoër, dan was dit baie moeilik om hom tot rus te kry. Hy wou op sy sy draai om te slaap en het altyd regsom gedraai, waarskynlik omdat sy kop ‘swaarder’ was aan daardie kant. Die rollery het alles kompliseer omdat hy homself behoorlik vasgedraai het in al die drade en pype, dit het ʼn spanpoging van 2 of 3 mense geneem om hom los te draai. Alexander en Dirk was een aand moeg vir sukkel daarmee en het die EKG drade losgemaak, die bondels drade ontkoek, die diagram gevolg en alles weer netjies op hulle plekke vasgemaak. Gelukkig het die verpleegsuster op daardie oomblik ʼn draaitjie gaan stap en niks hiervan gesien nie, en alles het reg gewerk daarna.
Twee aande voordat hy uitgeskuif is na Hoësorg kon hy darem al redelik goed reageer op vrae en het sy hele gesin herken. Ongelukkig bring vordering mee dat hy sterker word, regop wil sit, en loop. Die dokter het sy hande laat los maak omdat dit hom te veel ontstel het, maar daardie aand met besoektyd draai hy eers op sy maag en gaan staan toe op sy knieë op die bed om die staanders en ander toerusting agter sy bed te beskou. Hy was seker baie lus vir opstaan en ‘ontsnap’ want toe hy ʼn buisie met ʼn proppie op gewaar sê hy: “My fok!” en begin dit flink losdraai. Hy het seker gedink dis die ding wat hom vashou en hy sal kan opstaan as hy dit af kry. Gelukkig was dit nie ʼn belangrike stukkie toerusting nie. Alexander gryp sy hand weg en hou dit vas maar sy ander hand kom ewe flink by en draai verder los. Dirk moes toe die ander hand vashou en die proppie weer vasdraai. Gelukkig weet ons toe dat daar geen fout is met sy kleinmotoriese vaardighede nie!
Intensiewesorg red lewens, maar dis beslis nie die gemaklikste plek om te wees nie. Daar is 24 uur per dag ʼn lig iewers aan, mense beweeg, monitors piep en alarms gaan af, dis beslis nie die stil, stemmige plek wat ek my voorgestel het nie. Die voortdurende stimulasie is nie so sleg vir pasiënte nie, Hein het naderhand begin agterkom wat om hom aangaan en het kommentaar gelewer, so het hy na die pasiënt oorkant hom se monitor gewys en gesê: “ dis nie reg nie, 130 is nie reg nie “. Die man se bloeddruk was inderdaad baie hoog en sy hartklop veels te vinnig (inderdaad 130!) sodat die personeel deurentyd doenig was by hom. Ons het toe ook besef dat Hein kan lees, goed hoor en interpreteer wat hy sien en hoor.
Ons het aanvanklik glad nie van sy hare gepraat langs sy bed nie, hy was darem baie trots op daardie lang swart hare met die silwer streep! Ons het net positiewe dinge gedink en gesê naby hom, maar toe sy hande los kom het hy nie net die pype en drade verken nie, hy het ook so aan die lang hare agter sy oor gevoel-voel, oor die verband gevryf, oor die stompies hare bo-op sy kop gevryf, gefrons en weer aan die lang hare gevoel. Ons het maar naderhand vir hom gesê dat sy hare afgesny is dadelik bygevoeg dat dit weer sal uitgroei. Hy wou daarna nie weer aan die kort hare vat nie en het net met die langerige slierte in sy nek gespeel. Nadat hy kon loop het hy net een keer in die spieël gekyk en nooit weer nie.
Ons het hom geterg oor sy Vaaldriehoek Mullet maar hy het nie gedink dis snaaks nie. Dis die eerste ding wat Alexander gedoen het toe Hein tuis kom, nadat die hond en die perd gegroet is het hy die kind se hare oral netjies gelyk geskeer.
Daai vingers van hom was baie besig. Ek het ʼn paar keer opgemerk dat die verband om sy kop ʼn bietjie slordig lyk en aangeneem dis omdat hy so rond rol in die bed, tot die dag wat hy dit afpluk, sy kop krap en dit met twee hande, soos ʼn tulband, weer oor sy kop aftrek.
Tuisgekom het hy sy selfoon se sim-kaart uitgehaal en onderstebo teruggesit. Dit het geknak en ek moes hom winkel toe schlep vir ʼn nuwe een. Gelukkig het ek gesien toe hy dit weer doen en kon die simkaart betyds red. Dis ten minste darem ʼn beter, slimmer kaart as die oorspronklike.
Die eerste besoekers nadat hy uit Intensiewesorg ontslaan is, was Ouma Tittie saam met Lets en Liezl. Soos die personeel voorspel het, was daar ʼn onmiddellike en dramatiese verbetering in sy toestand toe hy na Hoësorg oorgeplaas word. Hy het in Saal E aangekom met ʼn pertinente waarskuwing dat hy woelig, rusteloos en soms byna onbeheerbaar is. Ek was nie by nie maar die personeel sê hy het inderdaad probeer opstaan uit die bed, die verband van sy kop afgetrek, en rusteloos rondgerol. Elfuur besoektyd, sowat ʼn halfuur later, het hy rustig lê en slaap. Hy is wakker gemaak om pille te drink, maar omdat hy nog ʼn vertraagde slukrefleks gehad het, is dit in joghurt fyndruk. Hy het die joghurt geëet, vrugtesap gedrink en verder geslaap.
Middag besoektyd het Ouma enkele minute voor my by sy kamer ingestap en ‘n groot verrassing gekry, hy het half regop gesit, geglimlag en haar dadelik herken en gegroet. Hy het Lets en Liezl nie eintlik herken nie maar blykbaar onthou Liezl rook want hy het haar dadelik met twee vingers voor die mond beduie dat hy groot asseblief ʼn sigaret soek. Hy het haar aangespreek as ‘Tannie Sonja’ (wie ook rook) en elke kort-kort sy versoek herhaal tot ons hom oortuig het dat hy nog nie kan loop nie en nie in die saal mag rook nie.
Dag 2 in Hoësorg begin hy kyk na die foto’s teen die muur en noem dat hy sy hond, Fanjan, mis in die bed saam met hom. Rethea gaan koop toe ʼn speelgoedhond wat baie soos Fanjan lyk en daar slaap Hein alte lekker met die hond styf in sy arms. Ek sal seker nooit Hein se opgetoënheid met die speelgoedhond vergeet nie, sy glimlag was soos die son wat opkom. Hy word later wakker en gewaar die hondjie, wat intussen onderstebo gedraai geraak het, onder die laken. Hy sleep hom aan sy stert uit, beskou die onderkant aandagtig, druk dit teen sy neus en vra: “ Sies, watse ding is dit?” Rethea kon darem tussen die lag deur die hond omdraai en sy gesiggie na Hein toe draai. Hein lag toe weer (half verlig) gooi sy arm om die hond, draai weer op sy sy en slaap verder. Fanjan Too staan nou ongeliefd op die spieëlkas, arme ding!
Nagpersoneel het vertel hoe die twee ooms in die ander beddens in sy saal hom saans wakker raas, dan staan hy op uit die bed en begin doelloos rondloop. Sy balans was baie swak en hy het meer geval en in mure vasgeloop as om regtig te loop, en niks kon hom in die bed hou nie, dus het hulle hom beurtelings in ʼn stoel by die stasie in die middel van die saal laat sit, en saam met hom al om die stasie gestap. Ongelooflike mense, hoe sê mens dankie dat hulle hom nie vasgebind het of ignoreer het nie?
Vroeg die oggend van Dag 2 in Hoësorg help Chris, die fisioterapeut, Hein om op te staan en te loop (wat hy die vorige middag en die nag met hulp van 2 mense gedoen het). Daardie middag word ‘n loopraam afgelewer. Die idee met die loopraam was dat hy dit effens optel en loop sodat hy dit maklik kan neersit as hy sy balans verloor. Dag 3 in Hoësorg pleit ek en die personeel ewe hard by Chris om Hein streng aan te spreek oor die stappery, want Hein lig daai loopraam horisontaal soos ‘n stormram, en loop dan so vinnig as wat hy kan, enigeen en enigiets voor moet maar net padgee! Chris se mooipraat het nie juis gehelp nie dus het ek gou huis toe gery om my krukke te gaan haal. Dit het hom veel stadiger gemaak, hy was maar lomperig en dit het so skeef-skeef gegaan maar Hein was op sy voete en kon self toilet toe gaan en gaan oefen in die gang af. Hy het graag saam met sy besoekers gestap om bietjie ‘af te show’.
Elke skoon hemp en slaapbroek wat ons gebring het is eers opgehou en bewonder asof dit die heel eerste keer in sy lewe is dat hy dit sien (op ‘n manier was dit) en dan het hy sonder uitsondering gesê: “ Oe! Dis mooi! “ duidelik beïndruk met sy eie kleresmaak, en selfs wanneer ons dieselfde hemp die tweede of derde keer bring. Tuisgekom het hy hom verlustig in ‘n hele nuwe klerekas vol van die coolste klere. Dirk het baie lekker gelag vir Hein se eerste poging om homself aan te trek, hy het die T-hemp met die prentjiekant na hom toe gehou en dit oor sy kop getrek, baie verbaas dat die prentjie nie op sy bors is nie!
Dag drie in Hoësorg help ek hom om te stort. Ek dra die klere en skeersakkie, sit alles reg in die badkamer. Hy trek self uit, stort, en droog af so ver hy kan bykom, foutloos tot agter sy ore! Ek droog sy rug af en help hom die broek aantrek omdat hy aan die reling moet vashou as hy buk. Hy trek self sy hemp aan en borsel sy tande. Uitasem gespook terug by sy bed beduie hy “dis nie reg nie”. Ek gaan kyk of ons iets indie badkamer vergeet het, kyk hom deur of hy nie mooi afgedroog is nie en doen my bes om uit te vind waaroor hy so neul, wat op aarde is nie reg nie? Sy woordeskat was op daardie stadium nog baie beperk en woorde het soos wilde voëls uit sy kop uit gevlieg. Uiteindelik lê hy moedeloos terug in die gemakstoel, trek die gulp van die slaapbroek met een vinger effens oop en beduie: ” Kyk! ” Ons het toe mooitjies nie vir hom ‘n onderbroek aangetrek nie!
Hy het meer as 10 kg verloor in die tyd in Intensiewesorg, dus het ons vir hom Purity vrugte, joghurt, kaas en vla gekoop om die hospitaalkos aan te vul. Alexander en Dirk het vir hom die buisie kaas oopgemaak en aangegee dat hy dit kan uit suig. Hein het eintlik sy oë toegeknyp, sy lippe geklap en gesê: “ Mmmmm-mmmmm! Dis lekker! “ Die arme kind is mos vreeslik lief vir kaas.
Tuisgekom het ons baie pret gehad wanneer hy woorde vergeet en summier vervang met enige woord wat in sy kop opkom. Ons het hom nie gehelp nie om hom te dwing om die regte woord te onthou. Op’n dag beduie hy hoe lus hy is vir ‘daardie brood met die deurmekaar vleis en groente en kaas en goed op’ Ek sê toe dat ek vir hom sal koop as hy kan onthou wat dit is. Dirk hoor die gesprek en skree uit die kamer: Dis pizza! (Hy was self baie lus daarvoor) Ek hou by my woord ten spyte van die kullery van Dirk se kant af, en belowe dat ek sal koop as hy tot by die winkel kan onthou wat dit is. Skaars by die hek uit het hy die woord vergeet, maar ek gee hom kans en hou aan ry, hy dink en dink en sit selfs die radio af sodat hy kan dink. Toe ons indraai by die parkeerterrein skree hy: “Pizza!” wat ek toe gekoop het, hy met klappende lippe aan gesmul het, en Dirk en Alexander ook elkeen van gekry het.
Kort daarna is ons in Pick and Pay om ‘n paar goedjies te koop. Hy is baie lief vir druiwe en stap reguit na die rak met groot, swart druiwe. Weer eens onderneem ek om dit te koop mits hy kan sê wat dit is. Ons was in die heel laaste gangetjie besig met die laaste inkopies toe ek hom herinner dat sy tyd byna verstreke is. Hy lyk bietjie benoud maar die woord spring net betyds uit sy mond uit: “Druiwe!” Hoeveel mense ons vreemd aangekyk het weet ek nie, ek het nie rondgekyk nie, ek kon net sien hy probeer hard en sy woordeskat brei uit.
Woorde was die hoogste hekkie, maar daar was ander ‘foutjies’ ook. Alita het kom perd ry en hy hou ewe galant die perd vas by die mounting block sodat sy kan opklim, maar ongelukkig maak hy die perd aan die verkeerde kant staan. Ek was al heel bedrewe in die kuns om Hein te korrigeer sonder om sy gevoelens seer te maak of hom dom te laat voel, en sê: “ Tannies kan nie aan daardie kant opklim nie, loop vorentoe, draai links en bring Dean dat hy hierdie kant staan asseblief.”
Een oggend kom Hein ingestap nadat hy vir Koedoe gaan bederf het met ‘n worteltjie, en vra: ” Wat is die perde se name? Ek ken vir Koedoe, Thumper, Impi en Dean, maar wie is die gryse? Die perd wat nie ‘n perd is nie? ” Ek het my lag gesluk en geantwoord: ” Die donkie se naam is Jaffie. “
Hein het sekere goed foutloos onthou, soos hoe om tee te maak en watter klere syne is, maar sou vergeet waar die brood gebêre word. Een aand vra hy waar die melk dan is, en ek verwys hom na die yskas. Kort daarna staan hy in die deur en vra vir melkpapier. Oulik soos ek geword het om uit te pluis wat hy bedoel wanneer hy kreatief raak met woordvorming, kon ek na ‘n paar probeerslae nog steeds nie uitpluis wat hy wil hê nie. “ Nee my kind, Ma verstaan nie, jy sal maar op ‘n ander manier moet verduidelik. “ Hy staan lank en dink en sê naderhand so half moedeloos: “ Ma, ek wil gaan poef “ Die toiletpapier was op! Die linnekas, waarna ek hom toe verwys vir die toiletpapier, was ook ‘n onbekende woord vir hom en ek moes maar gaan wys.
Twee dae na sy ontslag uit die hospitaal neem ek Hein vir fisioterapie, en daarna gaan ons Wimpy toe voor sy afspraak by die spraakterapeut. Oppad soontoe herhaal ek ‘n paar keer dat ons gaan Cream Soda drink. Ek was nog besig om my handsak neer te sit en die sleutels daarin te bêre, toe staan die kelner al langs ons tafel. Voordat ek nog kan dink om iets te sê het Hein en die kelner al oogkontak en Hein sê: “Kaas asseblief.” ‘n Groot vraagteken verskyn op die kelner se gesig. Hein glimlag en sê weer vol selfvertroue: “ Kaas asseblief. “ Die kelner staar vasgenael na Hein en weet duidelik nie wat hom verwag word of wat hy volgende moet doen nie. Ek raak toe maar liggies aan sy arm sodat hy na my kyk, en bestel ewe kalmpies twee groot glase Cream Soda. Hein het sy gunsteling koeldrank baie geniet en ek het die kelner so met die betaalslag komplimenteer met sy professionele optrede, hy het immers nie gelag, vrae gevra of enigsins aandag getrek nie. Die operasiemerk aan Hein se kop het hom seker laat besef waar die probleem lê. Dankie tog vir sulke engele ook.
Nà die musiekaand, wat hy baie geniet het, was Hein eintlik huilerig van moegheid. Hy kon nie eens meer ‘n logiese sin vorm nie en het woedend geword toe ek nie verstaan van watse wit goed hy praat nie. Hy het bly praat van Cream Soda en die yskas, maar dit wat hy bedoel is wit, nie groen nie. Ek het hom bed toe gestuur maar hy was oor moeg en kon nie tot rus kom nie, hy het aanhou terugkom na ons kamer om te karring oor die Cream Soda. Ons ontleed toe elke woord en na ‘n lang gesukkel sê ek: Roomys? Hy gooi sy hande in die lug: “ Daar’s hy! Uiteindelik! “ Hy het omgedraai, in die bed geklim en byna dadelik aan die slaap geraak.
Soos ek voorheen gesê het, het die Spraakterapeut verduidelik dat dit wat mens eerste in jou lewe geleer het die diepste vasgelê is en die maklikste nuwe paaie vorm om na boontoe te kom. Buiten tel, weeksdae, maande, kleure en ander voorskoolse oefeninge, moes Hein ook sy liggaamsdele uitwys. Soms moes ek daarna wys en hy sê en ander kere het ek gesê dan moet hy wys waar is dit. Hy het aanvanklik glad nie maermerries gehad nie, en julle kan nie glo waar sy kuite en ken orals gesit het nie! Ons het groot pret gehad maar hy het dit naderhand mooi reggekry en kon onderskei tussen sy naels en naeltjie.
Ons moes ook items identifiseer, en my gunstelingplek was die kombuis met sy baie toerusting. Ons volg dieselfde patroon, eers benoem hy en dan ek. Jy sal verbaas wees om te sien waarmee mens als, volgens Hein, kan brood rooster!
Sy leesvaardigheid het verbeter van laerskool tot hoërskool en nou volwasse vlak. Shireen werk nou meer aan sy visuele en ouditiewe geheue in voorbereiding op sy beplande inskrywing by die kollege in Januarie. Sy vra hom by sy vorige sessie om sy oë toe te maak en te sê watse klere sy, en toe ek, aan het. Hy het maar power gedoen deur haar donkerblou rok met die mooi en opsigtelike ketting om die nek net te beskryf as ‘swart’ en niks verder nie. Tuis gaan ons aan met die oefening maar dit sukkel, tot Dirk sy nuwe bakkie huis toe bring en Hein na ‘n enkele kyk presies in detail beskryf, alles van die vorm tot die bekleedsel, radio, alles. Ek besef toe dat ek anders sal moet begin dink want hy stel eenvoudig nie belang in die dinge wat ek hom tot dusver gevra het nie. Nou breek ek my kop om hom man-dinge te vra – waarin ek nie belangstel nie! Gelukkig is daar die perde en perdegoeters om sy visuele geheue mee te oefen.
Sy leesvermoë is nou op hoërskoolvlak, maar ons het baie pret gehad met sy uitspraak van sekere woorde, en sy begrip van wat sekere woorde beteken. Hy het intussen die kuns aangeleer om woorde te ontleed om die betekenis te kry. Die besering is aan die spraaksentrum van sy brein, daarom sukkel hy so met woorde, lees, woordbegrip, leesbegrip en om te onthou wat hy gelees het. Hy kan al leestekens reg lees maar sukkel nog om meer as een paragraaf terug te vertel. Sy woordskeppingsvermoë laat my dikwels glimlag, soos met sy laaste terapie sessie toe hy ‘n lang sin voorlees en ‘n woord uitlaat, hy verduidelik toe aan Shireen hy het die woord ‘weggesien’. Oulik nê?
Soos Suzan graag sê: As ons nie lag nie, dan huil ons, so kom dat ons lag.